
Articles
Wat beteken serebraalgestremdheid?
Serebraalgestremdheid verwys na breinbeserings (weens ʼn siekte of ongeluk) voor, tydens of na geboorte. Dit veroorsaak dat die persoon probleme het om sekere spiere te beheer.
Meer algemene breinskade kan lei tot ander probleme, soos verstandelike vertraging, visueel-, gehoor- of spraakprobleme, emosionele probleme, leerprobleme en epilepsie.
Nie alle leerders met serebraalgestremdheid woon skole vir spesiale onderwysbehoeftes by nie. Wanneer hulle jonk is en baie voordeel uit intensiewe terapie kan trek, is ʼn spesiaal-ingerigte skool eintlik beter.
Jan Kriel-skool is aanvanklik vir studente met epilepsie geskep, maar tog ontvang ons meer en meer serebraalgestremdes jaarliks. Ons susterskool, Paarl-skool, spesialiseer in serebraalgestremdheid, maar bied egter net klasse aan tot Graad 9. Daarna kom van hulle leerders na Jan Kriel vir Graad 10 tot 12.
Alle leerders, ook serebraalgestremdes, se prestasies en toekoms word deur baie aspekte bepaal. Hulle vermoëns, motivering, lewenshouding, selfbeeld en die ondersteuning van ouers en vriende speel ʼn groot rol.
‘n Goeie, gesonde, positiewe selfbeeld baie belangrik. Dis egter heelwat moeiliker vir ‘n serebraalgestremde persoon om ‘n goeie selfbeeld te vorm. Prestasies in sport, kuns of ʼn ander gebied help oneindig baie. Daarom gee Jan Kriel ook baie aandag daaraan, en moedig ons leerders sterk aan om hul talente uit te bou en hulself te laat groei. Deur God se genade vind baie leerders hierdie geleenthede as die ontkieming van hul die boom van selfvertroue.
Terme wat gebruik word om vorme van serebraalgestremdheid te beskryf:
- Spasties = verhoogde spanning in die spiere
- Atetoïed = stadige, doellose bewegings van aangetaste ledemate
- Ataksies = rukkerige, onvaste en swak beplande bewegings
- Gemengde beeld = ʼn kombinasie van bogenoemde Published in: Lees ons nuus
'n Besondere prestasie
Maretha Nel is ʼn Jan Krieler wat ons harte laat warm klop. Sy is ‘n tipiese rolmodel vir ander jong mense, een wat groot struikelblokke te bowe kom en uitstekend presteer. Maretha, ʼn kranige swemmer, het onlangs vir Suid-Afrika geswem by die Wêreldspele vir Serebraalgestremdes. Dié kampioenskappe is in Connecticut, Amerika, gehou.
ʼn Hartseer motorongeluk het Maretha gelaat met letsels wat haar lewe uiters moeilik maak. Sy het bly volhard in haar droom om nog eendag vir Suid Afrika te swem. Na goeie prestasies en toekennings in Suid-Afrika het die geleentheid uiteindelik aangebreek: sy het vir ons land aan die 50-meter en 100-meter vryslag en die 100-meter rugslag deelgeneem.
Maretha vertel: “Ek was die eerste dag baie bang en die kompetisie was erg. Ek het ook oorontsteking en griep gekry, maar dit was vir my fantasties om al die mense van oral oor die wêreld daar te sien. My tye was goed, maar nie goed genoeg vir ʼn medalje nie. Ek besef ek sal nou nog harder moet oefen.
Dit was ʼn wonderlike ondervinding. Dankie aan al die mense en aan die Here wat my ondersteun en dit vir my moontlik gemaak het.”