top of page
Search

Daniël vind sy plekkie

Updated: 5 hours ago

Audrey Vermeulen is sedert 2018 ‘n arbeidsterapeut by Jan Krielskool. Haar oudste, Daniël, was toe 6 jaar oud. In Graad R het Daniël se juffrou opgemerk dat, alhoewel hy baie kreatief is, hy meestal glad nie die instruksies uitvoer soos sy dit deurgee nie. In Graad 1 bars hy eendag in trane uit. “Mamma, ek is stout in die skool. Ek luister nie mooi as juffrou praat nie.”  By navraag besef Audrey dat Daniël sukkel om te konsentreer en dan na sy eie wêreld van dagdroom ontsnap. As 7-jarige is hy met ADHD gediagnoseer.


Vanuit haar beroep het Audrey geweet dat Daniël hulp nodig het. Hy het Arbeids-, Spraak- en Fisioterapie ontvang terwyl Dr. Adri van der Walt, ʼn pediatriese neuroloog, medikasie voorgeskryf het en ʼn pad met hom begin stap het. Sy het gevind dat Daniël op die outisme spektrum is (ASD) en later dat hy met 'n leergestremdheid saamleef. Skoolgaan het 'n bietjie beter geword.


“Daniël was altyd baie braaf en het sy beste gegee, maar ons het nie altyd besef wat dit hom gekos het nie. Sy punte was goed en ons kon vir hom die nodige assesserings akkommodasies in plek sit, maar die sosiale omgewing was vir hom baie moeilik. Hy het sy uitdagings en ‘anders wees’ as foute ervaar en gevoel hy is stout omdat hy nie kan stilsit, vir die juffrou kyk en luister soos die ander leerders nie. Sy kreatiwiteit en ‘buite die boks’ idees en geaardheid was ook nie altyd mooi verstaan nie.”   


In Graad 2 het sy bodem letterlik uitgeval. Emosioneel kon hy glad nie meer die druk hanteer nie en fisies kon hy nie meer sy hoofstroomskool bywoon nie. 'n Privaat-skool en tuisonderrig tydens Covid het gehelp. In Graad 4 het sy gesin Kuilsrivier toe getrek en hier het hy vir 'n kort tydjie 'n plaaslike laerskool met goeie leerder-ondersteuning bygewoon.  


Wanneer ek met hom oor my werk by Jan Kriel gesels het, het hy baie gesê; "That sounds like my people". Soos hy ouer geword het kon ons met hom gesels oor hoe sy brein anders werk en hoekom sekere goed vir hom moeilik is, maar ook hoe ander goed weer vir hom baie makliker is as vir ander. Ek kon vir hom verduidelik hoe ons by Jan Kriel leerders help om hulle uitdagings met lees en skryf te oorbrug en het, in samewerking met sy ondersteuningspan, die aansoekproses vir Jan Krielskool begin. En van toe af blom my kind!


Audrey & Daniël Vermeulen
Audrey & Daniël Vermeulen

Hy het weer self-vertroue gekry in sy vermoëns en neem eienaarskap van sy werk. Die verandering op sosiale en emosionele vlak is vir my die heel beste. Hy ervaar nie meer daaglikse angs en stres nie, wat hom toelaat om tot sy volle potensiaal te groei en te ontwikkel. In die Intermediêre Fase het hy baie vaardighede aangeleer om selfstandig te kan werk. Die manier waarop werk aangebied word en die ondersteuning wat hy in die klas gekry het, het hom gehelp om sy sterkpunte te gebruik om te leer en nie net sy uitdagings te oorbrug nie. Die feit dat personeel en medeleerders hom verstaan en aanvaar help hom om homself ten volle te kan uitleef in alle aspekte van skool. Die aanbieding van assesserings akkommodasies is ook 'n baie positiewe faktor en baie goed georganiseer.



Daniël en sy klaasmaats aangetrek vir Wêreld Boekedag 2023
Daniël en sy klaasmaats aangetrek vir Wêreld Boekedag 2023

Ons leerders (en Daniël) inspireer my, want hulle gee nie op nie. Hulle bly glo en bly vertrou en bly hul beste gee. Ek leer so baie by hulle elke dag en dit is vir my 'n baie groot voorreg om die geleentheid te hê om die wêreld deur hulle oë te kan sien. En as jy sien watter drake en reuse hulle daagliks oorwin, kan jy nie anders as om hulle lief te hê en te bewonder nie.”  Audrey Vermeulen, Arbeidsterapeut en mamma.

 
 
 

Comentários


bottom of page