SCHOOL | Jan Kriel Institute
top of page
308719185_759290191927633_8214578982342237370_n.jpg
303509018_738820250641294_6816953072556954009_n.jpg
308121860_758558095334176_7694903057842239368_n.jpg

Jan Kriel Skool

Jan Krielskool bied onderrig aan leerders van graad R tot graad 12. Die kurrikulum word aangebied volgens die Nasionale Hersiene Kurrikulumverklaring, dieselfde as dié van hoofstroomskole. Aan die einde van graad 12 skryf leerders die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen van die Departement van Basiese Onderwys.

Klasgroepe is aansienlik kleiner as in hoofstroomonderrig en onderrigtegnieke word aangepas om die individuele opvoedkundige behoeftes van leerders aan te spreek.

Hier word gepoog om die akademiese ontwikkeling van leerders te bevorder, om hul selfvertroue te herstel en op te bou en om hulle met die nodige vaardighede toe te rus sodat hulle, indien enigsins moontlik, in hoofstroomonderrig kan voortgaan.

Spanwerk is 'n belangrike aspek van die dienste wat by die skool gelewer word. Die betrokkenheid van en samewerking tussen opvoeders, ondersteuningspersoneel, ouers en leerders binne die span is noodsaaklik om te verseker dat elke leerder se leerhindernisse optimaal ondervang en aangespreek word.

​’n Uitgebreide ondersteuningspan is beskikbaar om die fisiese, sosiale, emosionele en akademiese behoeftes en ontwikkeling van leerders te ondersteun en te bevorder asook om die akkommodasie van leerders binne die skool en die kurrikulum te fasiliteer.

Die ondersteuningspan sluit mense van die volgende professionele groepe in:

  • Opvoedkundige sielkundiges

  • Berader

  • Maatskaplike werker

  • Professionele verpleegsters

  • Arbeidsterapeute

  • Fisioterapeute

  • Spraak-, Taal- en Gehoorterapeute

  • Leerondersteuningsopvoeders

 

Die skool het doeltreffend toegeruste leerlaboratoriums in die Laer- en Hoërskool wat fokus op die bestuur en koördinering van leerondersteuning en assesseringakkommodasies binne die skool.

 

Jan Krielskool is 'n hulpbronsentrum waar die personeel hul kennis, vaardighede en ervaring deel met ouers, leerders en opvoeders van ander spesiale skole en hoofstroomskole waar leerders met leergestremdhede geakkommodeer word.

Skoolterrein

bottom of page