Jan Kriel Instituut
Om 'n verskil te maak in die lewens van leerders by Jan Kriel Skool
Hierdie jaar vier Jan Krielskool sy 85ste bestaansjaar. Alhoewel baie mense herdenk in hierdie prestasie weet min hoe baie struikelblokke daar was om te oorkom.
Ds. en Mev. Kriel was die leraarspaar van NG Moedergemeente Kuilsriver van 1924 tot 1937. Hulle geliefde seun, Jan, het aan epilepsie gely waarvoor daar op daardie stadium geen raad in Suid Afrika bestaan het nie. Hulle het teen groot koste Europa en Ameika besoek om waardevolle kennis met betrekking tot in die versorging van persone met epilepsie te bekom.
Ongelukkig is Jan op 16-jarige ouderdom in 1925 oorlede. Wat daarna gebeur het, is soos volg deur wyle Dr. Piet du Toit, voorsitter van die skool se bestuur 1945-1976, beskryf: “En toe het dit gebeur. In plaas daarvan om teneurgedruk te voel, moed op te gee en in sak en as gaan treur het, het hulle op die vleuels van geloof en gebed opgestyg en ‘n helder visioen gesien”. Hulle baanbrekerwerk in die verband het daartoe gelei dat aansoek gedoen is by die plaaslike NG kerk om die ou pastorie te koop om in te rig vir persone wat aan “vallende siekte” lei.
Dis interessant om te weet dat daar in die beginsjare geensins beplan was om ‘n skool te vestig nie omdat die hoofdoel van die inrigting ‘n “tehuis” was. Die enigste wyse waarvolgens staatsondersteuning verkry kon word was egter om ‘n spesiale skool te stig. Op 1 April 1937 is erkenning deur die destydse Unie-onderwysdepartement verleen en is op 4 Mei 1937 amptelik deur Lady Duncan geopen, eggenote van destydse goewerneur-generaal.
Kort na die opening was daar reeds 7 kinders, versorg deur ‘n verpleegster en een onderwyseres. Al die werk is toe nog gedoen in die ou pastorie net soos dit was toe die Kriels daar gewoon het. Daar is spoedig besluit om die bestaande geboue te vergroot met goedgekeurde bouplanne en terselfdetyd is ‘n buitegebou se perdestal in ‘n klaskamer omskep. Die leerlingtal het taamlik vinning gegroei en teen Julie 1939 het 37 leerders deur 3 onderwyseresse lesse ontvang. Aangesien akkomodasie ook ‘n probleem was, was daar in 1936 reeds onderhandelinge om die Elim plaas aantekoop. Die plaasopstal en koeiestalle was omskep in slaapkamers vir die seuns terwyl die ou pastorie die dogters en kantoor kon huisves. Met behulp van die “Halfkroonfonds” in 1941 en ‘n staatsubsidie was verbeteringe aangebring om as die ‘nuwe skool’ te dien tot 1950.
Die Algemene Komitee het in 1940 reeds besef dat dit nie moontlik sou wees om die inrigting as ‘n privaat onderneming in stand te hou nie. Die NG Kerk het ten einde 1941 in ‘n vennootskap betree met betrekking tot die onderwys van kinders met epilepsie. Die eerste prinsipaal is aangestel in 1942 en beplanning van ‘n nuwe inrigting, koshuise en eetsaal is ook voortgesit. In 1947 is twee wooneenhede vir 64 dogters en 32 seuns voltooi en teen 1950 is nog 5 klaskamers en administratiewe kantore opgerig. ‘n Personeeltehuis is in 1952 in gebruik geneem en verdere uitbereidings aan die skoolgeboue, saal en klaskamers is in 1953 afgehandel. Nadat die atletiek baan in 1961 ontwikkel was het ander sportgeriewe soos tennisbane, netbalbane en ‘n rugbyveld ook aangelê.
Die eerste mediese spesialiste het reeds in die vroeër jare by die skool aangesluit maar teen 1978 was daar reeds ‘n sielkundige, fisioterapeut, spraakterapeut, maatskaplike werker en arbeidsterapeut aangestel. Teen 1965 was die leerdertal ongeveer ‘n 100 en teen 1972 is leerlinge met spesifieke leerprobleme by die skool ingeskakel. Om voorsiening te maak vir die groeiende getal dagskoliere is die eerste busse in 1976 aangekoop. ‘n Verdere belangrike ontwikkeling en uitvloeisel van die veranderde toelatingskriteria was die vestiging in 1981 van ortodidaktiek as onderwysmetode om kinders met spesifieke leerprobleme by te staan. Weens ‘n groter leerdertal en terapielokale het die herbeplanning van die skool in totaliteit ‘n noodkreet geword en bouwerk het in 1983 begin. Die skoolgebou, soos ons dit vandag ken, is in 1985 ingewy.
Die skoolwapen wat in 1976 ontwerp was is in 1983 hersien om die leuse “Ons Bou – We Build” in te sluit. In 1989 is die oorspronlike Jan Kriel emblem van 1947 ook vervang met ‘n nuwer weergawe en die leuse “Gee ‘n kind ‘n kans” is ook gemunt.
Alhoewel die Verenining van Vriende van die Eplileptiese Kind al in 1949 gestig is, is die fondsinsameling versterk met die stigting can die Departement van Ontwikkeling. Daardeur is ‘n network van donateurs, ‘n gesonde Reserwe Fonds en spesiale jaarlikse geleenthede gevestig. Die Liggieboom-fees (1991), Plaaslike Wynveiling (1992) en Tekkie Challenge (2004) vind steeds plaas. Die nuwe Onderwyswet het die bestuur van skole drasties verander. Die Beheerliggaan van Jan Krielskool word sederdien saamgestel uit ouers, onderwys en leerders terwyl die funksie van die NG Kerk beperk word tot die DVO as selfstandige organisasie. Jan Kriel Instituut, die ‘borgliggaam’ is ‘n geregistreer as ‘n program van Badisa en behartig die fondsinsameling, eiendomme en uitbereiding van bates.
In 1996 het die Onderwysbeleid se Skolewet verandeinge ook beteken dat nuwe vakkeuses kon aangebied word. Jan Kriel het klem op beroepsgerigte onderwys gelê deur sekere N-vakke in te voer. Gedurende 2001 is spesiale onderwys ook op ‘n inklusiewe basis geplaas wat beteken dat enige hindernisse vir leerders uit die skoolstelsel verwyder moes word. Dit sluit in leerders met neurologiese en fisiese hindernisse soos gesigsvermoeë, gehoorgestremdhede, mediese beperkings en spefieke leerprobleme. Jan Krielskool maak met groot sukses voorsiening vir leerbeperkings soos spraak-, arbeids- en fisioterapie, asook leerondersteuning vir elke leerder. Transkribeerders en tegnologie stel ook leerders met beduidende lees- en skryfprobleme in staat om hulle Nasionale Seniorsertifikaat te verwerf.
Sedert 2009 word die leerders opgelei in die gebruik van rekenaars wat omseilingstegnieke vir lees- en skryftake bied. Die Sentrum vir Alternatiewe Assessering en Leerondersteuning (SAALO) is ook in 2011 opgerig. Die sentrum se sagteware sluit in stemherkenningskomponente wat verbale opdragte skriftelik weergee en ‘n funksie wat geskrewe gedeeltes skandeer om in ‘n stemlêer te omskep. In 2013 is nog klaskamers ontwikkel om die jonger leerders te akkomodeer.
In 2022 is die LOGO-leersentrum voltooi. Die Leer Ondersteun Groei en Ontwikkeling sentrum stel leerders in staat om hulle opvoeding suksesvol te behartig. Dit is spesifiek ontwikkel vir die Grondslag- en Intermidiêre fase leerders en ondersteun veral leerders met gehoor-, sig en leeshindernisse. Die skool se hoofingang, parkeerterrein en stormwater stelsel in ook opgegradeer.
Tans huisves die 24ha gronde 52 koshuis leerders en 530 dag leerders. Jankriel Skool behartig Grondslag-, Intermediêre- en Seniorfase leerders met ‘n groeiende leerdertal. Die skool besit ook 19 busse wat daagliks meer as 1200 kilometer ry om dagleerders op te têl en terug huistoe te besorg. 51 onderwysers, 20 klasassistente en 22 terapeute verskaf die beste moontlike onderrig en ondersteuning. Te same met 11 administratiewe, 22 koshuis en 33 onderhoud personeel kry die meer as 580 leerders die beste kans om ‘n sukses van hulle toekoms te maak ongeag van hulle leervaardigheid, mediese toestand of gestremdheid.
Die sukses van die skool is ondenkbaar sonder die ondersteuning van donateurs. Vriende van Jan Kriel sien al vir 85 jaar om na die huidige en toekomstige belange van die leerders.