top of page
Search

Die Here het deur die ongeluk my lewe gered

  • Hilette Jan Kriel Instituut
  • 5 days ago
  • 2 min read

Die 18-jarige Zinray Buis praat eerlik en reguit. Hy was 4 jaar oud toe ‘n motor hom omry en sy lewe onherroeplik verander. ‘n Breinbesering laat hom ‘n hemipleeg met sy hele regterkant verswak. Sy hart en longe doen permanente skade op en hy moet saans deur ‘n tragee met ‘n C-PAP masjien lug in sy longe forseer vir asemhaling. En sy mobiliteit is so aangetas dat hy nie ver kan stap nie en met ’n shoprider oor die weg kom. Maar sy gees is beslis nie gebreek nie!


Personeel by die skool en die koshuis vertel almal dieselfde verhaal - hierdie jong man is altyd positief. Hy kla nooit nie, soveel so dat hy soms te laat eers vir hul sê as hy siek voel. Sy menswees is ‘n inspirasie vir oud en jonk, sy glimlag altyd breed.


En so pak hy die lewe voluit aan. Fisies gestremd, een been korter as die ander met ʼn skewe voet, trap hy sy spesiaal geboude driewiel fiets tot in die rekord boeke. 


Zinray het weereens vanjaar die WP verteenwoordig by die SASAPD 

(South African Sports Association for the Physically Disabled) Nasionale Kampioenskap. Hy het silwer gewen vir die 800m wedren en goud vir 1500m, 13.2km tydwedrenne asook die 26.4km langafstand-resies. Saam met die Spangees-troefee, is hy ook aangewys as ‘Most promising cyclist’ op provinsiale vlak.



Sy bynaam in die koshuis is “pastoor”. Hoekom, vra ek? 

“Oom, ek hou van bid en Bybel lees. Ek sê Psalm 23 op en bid die Onse Vader-gebed terwyl ek swaar trap aan die lang afstande. Maar meer as dit: Die Here het deur die ongeluk my lewe gered. Die ongeluk is ʼn seëning van die Here oor my lewe. Weet oom, al my familie en vriende my ouderdom is óf in die tronk óf op straat saam met die gangs, drugs en geweld. 

As gevolg van my fisiese gestremdheid na die ongeluk kon ek nie saam met hulle loop nie en só het die Here my lewe deur die ongeluk gered. Hy het my van die straat af gehou en nuwe geleenthede gegee. Ek is dankbaar daarvoor.”


Zinray is in Matriek en beoog om volgende jaar kuns te studeer. Met sy positiewe ingesteldheid en liefde vir die lewe gaan hy beslis nog vèr kom!

 
 
 

Comments


bottom of page