top of page
Search

Tyrone se liggie skyn

Hilette Jan Kriel Instituut
4 days ago
3 min read

Elkeen van ons staan daagliks voor uitdagings, al verskil dit van mens tot mens en is party 

se laste swaarder as ander s’n. Elke Jan Kriel leerder leef met spesifieke leerhindernisse, 

uitdagings wat nie in ʼn hoofstroomskool oorbrug kan word nie. Sommige dra swaarder as 

ander. By Jan Kriel is daar ʼn groep kinders wat ʼn dubbele las dra: Hul leef met ‘n (leer) gestremdheid sowel as die gebrek aan ʼn ouerhuis wat finansieel kan voorsien. Ons noem hul ons “Abba-kinders”, want hul moet méér gedra (abba) word as ander. Tyrone Simpson is so ʼn kind.

Van jongs af sukkel Tyrone met sy akademie. Lees en skryf wil net nie vir hom ‘werk’ nie. Hy word gespot, geboelie en selfs aangerand by sy vorige laerskool. Asof dit nie genoeg ontberings is nie, sukkel sy ouers finansieel en bevind hulle hulself meermale op straat.  In 2023, ná ’n lang en moeilike pad, is Tyrone met die hulp van ’n sielkundige by Tygerberg-hospitaal met verskeie leergestremdhede gediagnoseer. Uiteindelik het daar nuwe hoop gekom: in 2024 is hy by Jan Krielskool aanvaar, waar hy die geleentheid gekry het om binne ’n omgewing wat sy behoeftes verstaan, sy potensiaal te ontwikkel.


“Jan Krielskool is ʼn besonderse skool. Vir baie jare weet ek al van hierdie skool, maar nou is my eie kind hier. Jan Kriel is beslis die beste skool vir ʼn kind met leeruitdagings. Ek is so dankbaar dat Tyrone hier kan wees. Daar lê nog ʼn lang pad voor vir hom maar uiteindelik sien ons lig aan die einde van die tonnel.” - Laurika, Tyrone se ma.


Hier ontvang hy op ʼn hoë vlak spesialis ondersteuning en binne ʼn paar maande toon hy goeie akademiese vordering. By Jan Kriel word al sy vraestelle getranskribeer en Wiskunde kan hy met die hulp van gevorderde rekenaarprogramme voltooi. Hy maak nuwe maats en speel krieket vir die skool. Sy sport talent word raakgesien en in 2024 en 2025 behaal hy WP kleure (LSEN). Hy toer saam met die WP span na Mpumalanga – die heel eerste keer in sy lewe wat hy buite Kaapstad reis! 


“Tyrone het van die begin af gewys dat hy nie sou toelaat dat sy omstandighede sy toekoms bepaal nie. Hy het gekies om bo sy uitdagings uit te styg en sy eie sukses-verhaal te skryf. Wat Tyrone besonders maak, is nie net sy prestasies nie, maar ook die mens wat hy is. Hy is ’n ongelooflik dankbare jong man wat elke stukkie hulp, ondersteuning en leiding waardeer. Sy mooi maniere en waardering vir dit wat die skool vir hom beteken, spreek boekdele oor sy karakter.“ - Juffrou Anika Keet.


Jan Kriel is trots op Tyrone – hy is ’n bewys dat uitdagende omstandighede nie die einde van ’n droom hoef te beteken nie, maar dikwels die begin van ’n besonderse verhaal kan wees. Met die regte ondersteuning, begrip en geleenthede kan ’n kind se wêreld verander -

en kan uitdagings omgekeer word in hoop, groei en nuwe moontlikhede.


Tyrone herinner ons daaraan dat ware sukses nie bepaal word deur waar jy begin of hoeveel jy het nie, maar deur hoe jy die geleenthede en ondersteuning wat jy ontvang, gebruik om bo jou omstandighede uit te styg.



By Jan Krielskool is daar 560 kinders wat elke dag hul eie uitdagings trotseer en dikwels die harde kant van die lewe leer ken. Hier word ’n veilige, ondersteunende omgewing geskep waar elke kind die geleentheid kry om struikelblokke te oorkom, hul potensiaal te ontdek en in hulself te glo. Dit is juis hierdie verhale van hoop, groei en deursettingsvermoë wat ons jaarliks met ons Liggieboom-geleentheid vier.


Elke liggie aan ons Liggieboom vertel die verhaal van ’n kind wat ’n kans gekry het. ’n Kans om te leer, te groei en te droom. En JY kan help om daardie liggie te laat brand! Elke liggie word deur ’n vriend van Jan Kriel geborg - iemand wat glo dat elke kind ’n kans verdien.



 
 
 

Comments


bottom of page