top of page

Ewig Dankbaar

Updated: 5 days ago



Rucian  is ‘n gelukkige Graad 5-leerling by Jan Krielskool. Maar in sy kort lewe is hy al deur diep water. Rucian ly aan `Treacher Collins’-sindroom, 'n seldsame genetiese toestand wat

die manier waarop die gesig ontwikkel, beïnvloed. Alhoewel dit nie geneesbaar is nie, kan die simptome bestuur word met rekonstruktiewe chirurgie, gehoorapparate, spraakterapie en ander hulpmiddels. 


Op ‘n jong ouderdom het Rucian reeds ‘n rekonstruktiewe prosedure aan sy gesig ondergaan en is ook met erge gehoorverlies gediagnoseer. Dit het ‘n agterstand in sy taal- en spraakontwikkeling veroorsaak. Vir graad 1, 2 en 3 kon hy die Carel du Toit skool by Tygerberg Hospitaal bywoon en verlede jaar is hy na Jan Krielskool oorgeplaas.



Voorheen ʼn teruggetrokke, skaam en stil seuntjie, is hy nou baie gewild, het goeie maats gemaak en neem deel aan al wat ʼn sport is. Sy juffrou, Tania Japhets, noem dat Rucian al meer in die klas begin praat en deelneem, maar sy taalvaardigheid sukkel steeds. Hiervoor ontvang hy intensiewe terapie by Tanja Abrahamse, een van Jan Krielskool se Spraak-, Taal- en Gehoorterapeute.  


Spesiale aandag word gegee aan konsepte, begrippe en terminologie van inhoudsvakke aangesien hierdie moeilike woorde nie binne ʼn kind se verwysingsraamwerk val nie.

’n Nuwe rekenaarprogram, Symwriter, gebruik simbole wat help met woord herkenning en word aangewend om die aanleer van tale te ondersteun. Tanja monitor ook Rucian se gehoorapparate en hou kontak met Tygerberg Hospitaal se oudioloë vir ondersteuning.



ʼn Verdere terugslag tref die gesin in Julie 2024. Rucian se ma, Avigale, sterf na ʼn lang siekbed. Skielik is hulle alleen en sy pa, Rudi moet nuwe rolle en take oorneem. Dis nie maklik nie en hul trek na Rucian se tante vir ondersteuning. ‘n Sielkundige en Maatskaplike werker by Jan Kriel help waar hul kan. Gelukkig kan Rucian ook van skoolvervoer

gebruik maak wat hom daagliks tussen sy huis en die skool vervoer. 



“Jan Krielskool is wonderlik. Ons kon nie vir ʼn beter skool gevra het nie. Rucian se taal, spraak en akademie verbeter. Meer as dit, die personeel ondersteun ons op soveel ander terreine. Onlangs het hul hom na ʼn oogkundige vergesel en ook vir sy nuwe bril betaal na die ou een gebreek het. Hulp met nuwe SASA registrasie is self nie te veel gevra nie. Ons gesin is Jan Kriel ewig dankbaar.” - Rudi        


Dankie vir saamlees en deel van Rucian se storie. Ontvang ook ons dankbaarheidsgeskenkie aan jou. Laai gerus hierdie gratis e-kerskaartjies af om Kerstyd op Facebook te plaas of per WhatsApp aan jou familie en vriende te stuur. Selekteer enige item om oop te maak, kies dan 'Download' of 'Saveonder 'Options'.. Geniet dit!








62 views0 comments

Comments


bottom of page