top of page
Search

Geloof, hoop en liefde

Updated: Sep 23

Jan Kriel-leerders en gesinne is bevoorreg om die kennis en toewyding van ‘in-house’ terapie- en ondersteuningsdienste te ervaar. Meeste skole het ‘n groot tekort aan leerderondersteuning en selfs in ander spesiale-onderrig skole is dit 'n daaglikse behoefte. 


Vir ‘n hele paar jaar dien Jan Krielskool as ‘n Bronnesentrum vir leerders, opvoeders en gesinne van ander skole en gemeenskappe. Dit behels die deel van studiemateriaal en klankopnames vir alternatiewe assesserings doeleindes asook die opleiding van opvoeders. Die IO-(Inklusiewe Onderwys) span ondersteun leerders deur middel van toetsing, diagnoses, uitwys van struikelblokke en aanbevelings vir akkommodasies en intervensies. Meer onlangs het die Wes Kaapse Onderwys Departement ‘n platform – ‘No child left behind’ – bekend gestel. Hierdeur word die IO-span verder bemagtig om ander skole, leerders en families buite die mure van Jan Kriel met hul kennis en toewyding as Bronnesentrum te ondersteun.

 

Opleiding oor ‘n verskeidenheid onderwerpe (waaronder Spesifieke Leergestremdheid en Uitvoerende Breinfunksies) word vir personeel by hul eie skole aangebied. Die afgelope twee jaar het die IO-span, bestaande uit ‘n Opvoedkundige Sielkundige, Arbeidsterapeut,  Spraak- en Taalterapeut en Leerondersteuningsonderwyseres, twee suksesvolle ouerklinieke by Happy Valley Primêre Skool in Kuilsrivier aangebied. Dit behels ‘n ses-weke program vir Graad R ouers waar inligting oor vroeë kinderontwikkeling gedeel en idees vir stimulasie en ontwikkeling verduidelik word, terwyl die nodige apparaat en hulpmiddels om tuis te gebruik, aan die ouers verskaf word. Happy Valley se gemeenskap en skool het geen toegang tot hierdie tipe dienste of ondersteuning nie, dit terwyl die nood en behoefte daaraan baie hoog is.


ree

“Ons het nie al die antwoorde nie,

maar wat ons het, gee ons.”    

– Dr. Mariette van Niekerk, 

Opvoedkundige Sielkundige     


Die IO-span luister na die ouers se verhale rondom die moeilike pad wat hulle met hul kinders wat swaarkry loop, help om diagnoses te verduidelik en die impak wat dit het op die totale funksionering van die kind en die invloed daarvan op gesinslewe. 


“Ons verseker ouers dat dit wat hulle voel en ervaar normaal is. Ons help hulle om ‘n ompad en ‘n T-aansluiting te sien eerder as ‘n doodloopstraat. Op die ou end kry ons span baie meer daaruit as die ouers, want ons voel ons kon geloof, hoop en liefde deel.”


Tydens bogenoemde werkswinkel het ouers geleer hoe om alledaagse huishoudelike en herwonne items kreatief te gebruik om leer deur middel van spel aan te moedig. Aktiwiteite het ingesluit klei, botteldopspeletjies, gedeelde lees en die gebruik van tydskrifte op prettige en opvoedkundige maniere. Kyk gerus en voel vry om te deel!


 
 
 

Comments


bottom of page