Na 24 jaar van onwrikbare diens neem Mev Wright afskeid van Jan Krielskool. Sy wil deur die hele Suid-Afrika toer met ‘n ‘camper’ maar gaan eers vir haar seun in Nieu Seeland kuier en wou nog altyd haar eie Koffiewinkel te besit. Maar in haar laaste paar weke by Jan Kriel het ons gaan inloer met ʼn paar vrae....
Hoekom spesiale onderrig by Jan Krielskool?
“Ek was 11 en halwe jaar uit die Kaap en in die Oos-Kaap skoolgehou en het ook by Tegniese Kollege klas gegee. In April 2000 het ek by Jan Krielskool begin skool hou. Op daardie stadium het Jan Krielskool N4 tot 6-vakke aangebied en het ek begin deur Entrepreneurskap vir die leerders te onderrig. Ek het aansoek gedoen omdat ek gevoel het dat ek ʼn verskil in ʼn kind se lewe sal kan maak by ʼn spesiale skool.”
“Ek het begin as ʼn posvlak 1 onderwyseres en gevorder tot Adjunkhoof. Hester Faasen en Leon du Toit was my mentors en ek het so baie by hulle geleer en is vir ewige dankbaar dat hulle in my lewe is en was. Baie dankie ook dat Jan Kriel in my geglo het en die geleenthede gegee het om hier te kon groei as mens en opvoeder.”
“Ek was oor die afgelope jare baie betrokke by buitemuurse aktiwiteite en funksies: Steakbraai, Hoenderbraai, Matriekafskeid en indien ek nie funksie gereël het nie, het ek dit ondersteun en sportwedstryde bygewoon. In my beginjare het ek saamgegaan wanneer ons die leerders op Sporttoere en Graad 11 toere geneem het en dit was altyd vir die leerders ʼn hoogtepunt. Ek het die positiewe versterking by die Hoërskool ingebring dat leerders wat nie altyd raakgesien word nie en ambassadeurs in vir die skool ‘n Big 6 balkie kan kry en ek hoop dit sal kan voortgaan.”
“Ek het vir 14 jaar RTT (CAT) vir graad 10 tot 12 aangebied en deesdae bied ek Rekenaarsgeletterdheid aan vir die Graad 7 tot 9 leerders, want ek voel leerders moet die programme op die Rekenaar kan gebruik. So het ek ook al die leerders in die Seniorfase ook leer ken en weet wie hulle is as ander onderwysers van hulle praat. Ek voel die vak Rekenaartoepassingstegnologie is ʼn vak wat alle leerders instaat stel om eendag in enige werk te kan gebruik.”
“Ek is ʼn omgee mens en by Jan Krielskool kom die leerders eerste en ook my personeel. Ek probeer altyd om vir almal die beste te bied en te verstaan wat hulle behoeftes is en te help waar ek kan. As personeel siek is, het ek probeer om hulle te besoek of ten minste navrae te doen oor hulle welstand. Jan Kriel se personeel het my goed ondersteun deur moeilike tye en daarvoor is ek baie dankbaar. Hier is wonderlike onderwysers en ondersteuning wat dit vir my moontlik gemaak het om vir 24 jaar hier te kon wees.”
“Jan Kriel se geriewe is van die beste en het oor die jare net verbeter, soos die Gasvryheidstudies, SAALO, LOGO, die voorportaal en klank en beligting in die Saal, ens. Die verskillende sporte en kultuuraktiwiteite wat is die skool aanbied. Die verskillende tipes leerders met soveel verskillende diagnoses en uitdagings was soms ʼn uitdaging, maar as ek oor moes kies sou ek dieselfde pad gestap het, want hier by Jan Krielskool het elke leerder hulle plekkie en sou hulle in hoofstroom net ʼn nommer gewees het. Hier bereik hulle die hoogtes wat hulle verdien.”
“Ons is baie dankbaar vir al die bydraes vanaf al die donateurs daar sonder sou ons nie in al die behoeftes van die leerders kon voorsien nie.”
Woorde vir die toekoms?
“Jan Krielskool is die beste spesiale skool in die land en het die beste onderwysers- julle kan trots wees op die skool. Hou aan om net julle beste te gee en onthou van die kollegas, die leerders en ouers wat die pad saam met julle stap. Moenie teen mekaar werk nie- werk SAAM.”
“Ek sal sien nog waarheen die paaie my lei maar vir eers gaan ek net ontspan en my huis, my familie by die see geniet.”
Ons sê vir Juffrou Bernie baie dankie vir al die liefde en ondersteuning wat sy vir Jan Krielskool se leerders gebied het en beste wense vir die toekoms!
Comments