Jan Kriel reik uit
'n Nuwe hoofstuk in die ondersteuning van leerders met leergestremdhede is onlangs geskryf toe die Jan Kriel Instituut sy kundigheid en hulpbronne beskikbaar gestel het om Langerugskool in Worcester met die vestiging van 'n moderne Alternatiewe Assessering Sentrum te ondersteun.
Terwyl Jan Krielskool volgende jaar sy 90ste bestaansjaar vier, bly die skool se invloed en nalatenskap steeds groei. Tot 2015 het die skool ook leerders uit Worcester, Robertson en omliggende gebiede bedien. Met die opening van Langerugskool in 2015 het nog 'n belangrike geleentheid ontstaan om leerders met leergestremdhede toegang te gee tot die volledige CAPS-kurrikulum tot op matriekvlak. Vandag is dié skool, saam met Jan Kriel- en Tafelbergskool, een van slegs drie akademiese spesiale skole in die Wes-Kaap.
Oor dekades heen het Jan Krielskool 'n sterk reputasie opgebou as voorloper in alternatiewe assessering. Die pionierswerk met ouditiewe leer, praat-tot-teks-tegnologie en die ontwikkeling van die SAALO-sentrum in 2011, gevolg deur die LOGO-sentrum in 2022, het 'n beduidende bydrae gelewer om leerhindernisse vir duisende kinders te verminder. Hierdie sentrums het bewys hoe noodsaaklik toeganklike assessering is om elke leerder die geleentheid te gee om sy of haar volle potensiaal te bereik.
Omdat Langerugskool nie oor die nodige kundigheid of finansiële middele beskik het om 'n soortgelyke fasiliteit te ontwikkel nie, het die skool die Jan Kriel Instituut vir ondersteuning genader. In Junie 2026 het die instituut se direksie goedkeuring verleen vir finansiële ondersteuning, sowel as praktiese raad en spesialiskennis om die projek moontlik te maak.
Volgens Johan Benadé, voorsitter van die direksie van die Jan Kriel Instituut, bly alle donasies wat vir Jan Krielskool ontvang word uitsluitlik tot voordeel van die skool se leerders. Die instituut was egter bevoorreg om alternatiewe inkomste, waaronder huurinkomste, te benut om ook leerders by Langerugskool te ondersteun. Hy het verder sy waardering uitgespreek teenoor die professionele kontrakteurs wat hul kundigheid gedeel het om te verseker dat die nuwe sentrum aan die hoogste standaarde voldoen. Die projek is in September 2026 suksesvol voltooi toe die nuwe Alternatiewe Assessering Sentrum amptelik in gebruik geneem is. Die sentrum beskik oor 34 individuele werkstasies, volledig toegerus met moderne rekenaars en gespesialiseerde programmatuur om leerders optimaal te ondersteun.
Hierdie samewerking is 'n uitstekende voorbeeld van hoë kundigheid, vrygewigheid en 'n gedeelde passie vir onderwys nuwe geleenthede vir kinders met leergestremdhede kan skep. Deur saam te werk, word meer leerders bemagtig om met selfvertroue en waardigheid hul akademiese potensiaal te bereik.
JKID Raadslede Willem Rossouw, Johan Benade saam met Skoolhoof Mariet Oosthuysen, JKID Besturende Direkteur Ds. André van Wyk en Argitek Dino Calitz.




Comments