top of page

'n Dubbel dosis genade


Ouers en kinders beleef met tye uitdagings op skoolvlak, en waar spesiale leerbehoeftes ter sprake is, soveel te meer. Elke helpende hand is daarom ‘n stukkie genade. Maar hoe gemaak as ʼn boetie of sussie ook sukkel?


Henriëtte Kotze se twee kinders, Gerhard (Gr.3) en Mari (Gr.1) is beide in Jan Krielskool. Gerhard het skolasties gesukkel en moes Gr.R in hoofstroom herhaal. Weens leerhindernisse het hy gesukkel met klasdeelname en aangesien hoofstroomskole nie gerat is om kinders met spesiale onderrigbehoeftes te akkommodeer nie, het onderwysers al meer en meer gefrustreerd met hom geraak. Mede leerders het hom begin spot en boelie. In Gr.2 het Gerhard ʼn kans gekry om na Jan Krielskool oorgeplaas te word. En hier het sy lewe dramaties verander.


“Gerhard het meer selfvertroue en spog dat hy deesdae sy eie huiswerk kan voltooi. Hy het selfs begin sokker speel en wil volgende jaar begin toutrek. Hy het die vrymoedigheid om met my te gesels oor wat by die skool gebeur het, hy vertel my van sy maatjies en is positief oor elke dag. Selfs atletiek wat hy nooit aan deelgeneem het nie is nou ʼn trekpleister in vergelyking met sy vorige skool waar hy gereeld onder sy lessenaar weggekruip het!”


Mari sukkel ook met leerhindernisse wat vererger word deur spraakontwikkelingsdispraksie. Ook vir haar het die hoofstroomskool voorgestel dat sy Gr.R herhaal. Gelukkig kon sy ook na Jan Krielskool kom en met hulp van die onderwysers en spraakterapeute het sy dadelik aangepas. 


“Ek is nie vir een minuut spyt dat ek my kinders Jan Kriel toe gestuur het nie. Hulle is nou positief oor skool en medeleerders en is selfs by die huis meer gelukkig. Ons is ewig dankbaar vir dubbele genade.” 


Simon (Gr.4) en Rebecca (Gr.3) du Toit is albei op die outisme spektrum wat ook gepaardgaan met ander leerhindernisse. Rebecca het verlede jaar by Jan Kriel begin. Saam met ADHD is sy ook gediagnoseer met Aleksitimie wat veroorsaak dat sy sukkel om emosies te identifiseer, verstaan en wys. Sy was gedurig angstig, wou niks van skool weet nie en het gereeld ineenstortings gehad. Met die hulp van haar klasonderwyser  en terapeute by Jan Kriel, wat haar juis in klastyd ondersteun, het haar angs verdwyn en kon Rebecca selfs goeie maats maak.

 

Voordat Simon by Jan Kriel aangesluit het moes hy oor ‘n tydperk van 5 jaar 4 keer van skool verander! Sy  leerhindernisse was net te oorweldigend. Sy ouers het besluit om eerder tuisonderrig te probeer en met die hulp van Magriet Muller (afgetrede Jan Kriel onderwyseres) het hy so goed gevorder dat hy in ag geneem kon word by Jan Kriel. Na ‘n proeftyd-perk is hy aanvaar en met behulp van ‘n fasiliteerder kan hy uiteindelik sy skoolloopbaan met selfvertroue aanpak. 


“Ons loop op die wolke. By vorige skole was Simon so ongemaklik en gefrustreerd, hy het tafels omgedop en baklei. Selfs by die huis het ons permanent op eierdoppe geloop. Beide my kinders het nuwe kanse gekry, maats gemaak, en vir die eerste keer in 6 jaar kan ons as gesin ordentlik kommunikeer. MY HART KLOP JAN KRIEL! ”

 




127 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page