🎉 Vier 88 Jaar van 'n Verskil Maak! 🎉
- Hilette Jan Kriel Instituut
- Jun 10
- 2 min read
Updated: Jun 11
In 2025 vier ons met trots ons skool se 88ste verjaardag — 'n reis gevul met groei, veerkragtigheid en onwrikbare toewyding om leerders met leerhindernisse te ondersteun.
Dit was Mev. Kriel se toewyding en harde werk wat gelei het tot die amptelike stigting van die instelling op 4 Mei 1937. Sy was 'n merkwaardige vrou wat mense van regoor die land met haar geloof en passie aangemoedig het om betrokke te raak by die saak van die kinders van Jan Krielskool. Fondse was dringend nodig om personeel aan te stel, geboue op te rig en na die groeiende aantal kinders om te sien. In 1939 het hulle 'n stuk grond verkry en die seuns is in die koeistal gestasioneer terwyl die perdestalle ingerig is om as die Nuwe Skool gebruik te word.
In 1942 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk die bestuur van die instelling oorgeneem en die samewerking tussen die Departement van Onderwys en die Jan Kriel Instituut, soos dit vandag bekend is, is gebore. Dit volg op die sistematiese ontwikkeling van infrastruktuur en uitbreiding van ondersteuningsstrukture, wat tans geleenthede bied aan ongeveer 550 leerders.
Ons is dankbaar vir hoe ver ons gekom het; ons vermoëns wat toegeneem het om leerders te ondersteun en aan al die pioniers van die verlede. Ons onthou met waardering die Kriel-familie wat die skool uit liefde vir hul seun, Jan, gestig het. Ons dink terug aan ons vriende, skenkers en ander ondersteuners wat ons toelaat om met ons doel voort te gaan. En ons sien uit na die toekoms en die geleenthede wat dit inhou. Gespesialiseerde onderrig en kundigheid sal altyd duur wees, maar na al die jare glo ons steeds in die waarde daarvan.
Vir 88 jaar was ons meer as net 'n skool – ons is 'n veilige ruimte, 'n familie en 'n plek waar elke leerder gesien, gehoor en bemagtig word om op hul eie unieke manier te floreer.
Aan al ons leerders, ouers, personeel (voormalig en hede), skenkers en ondersteuners — DANKIE dat julle deel is van ons storie.
Ons is nogsteeds hier - om ons missie van gehalte-onderwys, sorg en uitnemendheid vir nog baie jare voort te sit!
#celebrateyourdifferences #jankriel
#Trotsjankriel
Comments