top of page
Search

Waar hoop groei en drome gebou word

Hilette Jan Kriel Instituut
6 days ago
3 min read

‘Mnr. en Mev. Crous, julle kind sal ongelukkig nooit in 'n skool geplaas kan word of matriek voltooi nie. Sy sal waarskynlik nooit kan praat nie. Ons het egter vir julle die naam en nommer van 'n baie goeie fasiliteit vir sulke kinders - Dit was die woorde wat my ouers ontvang het toe ek net vier jaar oud was.’


‘Vandag staan ek hier voor julle as die Voorsitter van die Jan Kriel VLR, 'n trotse matrikulant en 'n bewys dat 'n diagnose nie jou toekoms bepaal nie. My naam is Kiara Crous, en ek is ongelooflik trots om deel van die Jan Kriel-familie te wees.’


‘In Januarie 2013 het ek, met my blommetjiesrok, bang maar opgewonde, as ‘n graad R-leerder by Jan Kriel ingestap. Ek onthou nie baie van daardie eerste dag nie, maar daar is drie persone wat ek nooit sal vergeet nie, Juffrou Mariette, Juffrou Hanneke en Tannie Maggie. Hulle was van dag een af my grootste ondersteuners. Vandag, dertien jaar later, is ons steeds almal deel van hierdie besonderse skool, en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.’


‘Jan Kriel het my nie net geleer om te lees, skryf en somme te maak nie. Hierdie skool het my geleer om in myself te glo. Hier het ek geleer dat dit nie saak maak waar jy begin nie, maar hoe hard jy bereid is om te werk om jou drome te bereik. Ek was bevoorreg om by ongelooflike onderwysers te leer – mense wat nie net my akademiese vermoëns raakgesien het nie, maar ook my potensiaal as mens. Hulle het my aangemoedig om elke kwartaal beter te doen as die vorige een, om doelwitte te stel en nooit moed op te gee wanneer dinge moeilik raak nie.’


‘Sport het ook 'n groot rol in my lewe gespeel. Jan Kriel het vir my deure oopgemaak waarvan ek net kon droom. Ek het die afgelope vyf jaar die voorreg gehad om die Wes-Kaap LSEN-span by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe te verteenwoordig.‘


‘Om die provinsie se kleure te dra en teen ongelooflike atlete mee te ding, was een van die grootste voorregte van my lewe. Hierdie ervarings het my dissipline, deursettingsvermoë en selfvertroue geleer.’


‘As ek aan Jan Kriel dink, dink ek nie eerstens aan die klaskamers of die sportvelde nie, maar ek dink aan die mense. Die onderwysers wat altyd geglo het ek kan. Die terapeute wat my ondersteun het. Die personeel wat elke dag met liefde en geduld gewerk het en die vriende wat familie geword het. Hier het ek geleer dat sukses nie beteken om beter as iemand anders te wees nie. Sukses beteken om elke dag 'n beter weergawe van jouself te word. As ek vandag terugkyk na daardie woorde wat my ouers jare gelede moes aanhoor,  besef ek hoe belangrik dit is om nooit iemand se potensiaal te onderskat nie. Soms het 'n kind net iemand nodig wat in hom of haar glo.


‘Aan elke onderwyser en donateur van Jan Kriel – Dankie vir elke opoffering, elke gebed en elke woord van aanmoediging. Dankie vir jul oop hande en harte. Sonder julle sou ek nie vandag hier gestaan het nie, dankie dat julle elke kind sien vir wie hulle kan word, en nie net vir die uitdagings wat hulle het nie. Julle verander lewens op maniere wat woorde nooit volledig kan beskryf nie.’


Ter afsluiting wil ek graag sê, moenie bang wees om groot te droom nie. Jou storie word nie deur jou omstandighede geskryf nie, maar deur jou deursettingsvermoë. Jan Kriel is nie net 'n skool nie. Dit is 'n plek waar hoop groei, waar drome gebou word en waar kinders leer dat hulle meer werd is as enige etiket wat die wêreld op hulle probeer plaas. Jan Kriel is nie net 'n plek waar jy skoolgaan nie – dit is 'n plek wat jy vir altyd jou huis sal noem.’


- Kiara Crous, VRL Voorsitter, 2026



 
 
 

Comments


bottom of page