Wouter leer waagmoed aan
- Hilette Jan Kriel Instituut
- 6 days ago
- 3 min read
Wouter Smit se jongjare vertel glad nie ‘n mooi verhaal nie. As gevolg van sy ma se dwelm- en alkoholafhanklikheid het hulle sonder enige standvastigheid in Gauteng rondgeswerf. Wouter was nooit vir Graad R ingeskryf nie, hy was in 3 verskillende skole in Graad 1 en het steeds nie daardie skooljaar voltooi nie. Eers na sy ma se dood in 2020 kon sy pa voogskap bekom en trek hy Kaap toe.
Maar hier tref die tweede hoofstuk swaarkry. Met geen bewys van formele skoolopleiding nie moet Wouter van voor af in Graad 1 by Sunvalley Primêr begin. Later moet hulle noodgedwonge trek en word hy oorgeplaas na Table View Primêr. Dis hier waar vasgestel is dat Wouter nog nie voldoende kan lees of skryf nie. Die skool ondersteun hom na die beste van hul vermoë en ADHD word gediagnoseer, waarna hy met medikasie begin. As gevolg van Wouter se skolastiese- en ontwikkelingsagterstand, sukkel hy steeds akademies en kom nie Graad 4 in 2024 deur nie. Op aanbeveling en ondersteuning van sy skool kry Wouter plek in Jan Krielskool, waar hy in 2025 Graad 4 herhaal.
“Die seuntjie wat aan die begin van die jaar by my ingestap het was skaam en teruggetrokke. Hy was so onseker van homself en sy toekoms. Selfvertroue was iets wat
Wouter nie geken het nie. Hy het gereeld gesê ‘ek kan nie lees nie, so ek weet nie’ en was
bang om akademies nuwe dinge te probeer. Tog was hy kinderlik opgewonde om by ons te begin. Hy het dadelik baie diep in sy juffrou se hart kom inkruip. Met sy vriendelike omgee hart het hy al diep spore in die Jan Kriel-familie getrap. Hy het geglo dat hy nie nuwe uitdagings sal kan baas raak nie, maar hy het waagmoed aangeleer en vinnig gesien probeer is die beste geweer. Nou neem hy selfs entoesiasties deel aan atletiek en rugby en sien ook uit na die opkomende swemseisoen.” - Juffrou Anika
Pa Wouter kan nie uitgepraat raak oor die mate van ondersteuning wat hulle by Jan Krielskool ontvang nie. Aangesien hy steeds baie sukkel met lees en skryf, bied die verskeie alternatiewe assessering akkommodasies by Jan Krielskool hom die geleentheid om sy skoolloopbaan suksesvol aan te pak. Die skielike akademiese vordering motiveer Wouter om net beter en beter te wil doen, terwyl die persoonlike aandag van sy onderwyser en die terapeute, hom weer selfvertroue gegee het soveel so dat hy weer in homself begin glo.
“En die eerste keer in twee jaar slaag hy ‘actually’ sy graad!” - Pappa Wouter
“Hy het holisties so baie gevorder dat my hart bars van trots” - Anique van Dyk, Arbeidsterapeut
Finansieël is die skuif na Jan Kriel ook ʼn uitkoms. Die broodnodige ekstra klasse en privaat terapie was nie vir die gesin finansieël volhoubaar nie, maar nou word alles by Jan Kriel as deel van die skooldag ingesluit. Omdat die gesin in Table View woon en sy pa lang ure in die sekuriteitsbedryf werk, kan Wouter gedurende die week in die koshuis bly.

“Wouter het nou baie ondersteuning nodig, veral met sy huiswerk. En dit kry hy by Jan Kriel se koshuis. Juffrou Charné gee baie persoonlike aandag en lees selfs elke aand vir hom. Die koshuislewe doen wonders vir hom en as enkel kind het hy nou ook lekker maats gemaak. As ouer bly ek net so dankbaar vir alles wat Jan Kriel vir my kind beteken.” - Pappa Wouter
















Comments