Het jy geweet?
- Hilette Jan Kriel Instituut
- Jun 6
- 2 min read
Updated: Jun 10

Tydens die Junie eksamen word 2133 vraestelle in die Hoërskool en 422 vraestelle in die Laerskool vir Jan Kriel leerders getranskribeer. Vir elkeen van hierdie vraestelle beteken dit dat een transkribeerder en een leerder in ‘n afsonderlike vertrek vir die tydsduur van daardie vraestel geakkommodeer moet word: 2555 keer in die 4-weke eksamenperiode. WEL GEDAAN!
Wat is Alternatiewe Assessering? Van Jan Kriel se leerders kwalifiseer vir transkribering of voorlesing akkommodasies omdat hulle, in vergelyking met ander leerders hul ouderdom, ten spyte van toereikende intellektuele vermoëns en genoegsame geleenthede nie in staat is om daarsonder hul eksamens regverdig te voltooi nie. Dit is belangrik om te verstaan dat sulke tegnieke slegs in plek is om die leerder op gelyke voet te bring met een wat in die saal sy eksamen aflê. Leerders, beide met behulp van akkommodasie en die sonder, word onsydig geassesseer sodat nie die een of ander bevoordeel of benadeel word nie. Die tegnieke wat met groot sukses by Jan Kriel gebruik word, is in pas met departementele beleidsdokumente en word amptelik deur die Onderwysdepartement erken en is deel van die onderwysbeleid, selfs op tersiêre vlak. Dit is as gevolg van groot ondersteuning van donateurs dat Jan Kriel soveel leerders kan ondersteun. Die onderwysdepartement het deur al die jare net een personeellid se salaris gedra, die res van die personeel is befonds deur donateurs. So ook die inrig van SAALO en later LOGO, ons sou nooit hierdie reuse taak kon behartig sonder donateurs se ondersteuning nie.

Wat doen 'n voorleser/transkribeerder? Die leser lees die vraestel vir die leerling, presies soos wat die vraestel gedruk is. Sy/hy mag geen verduideliking gee nie, niks vrae beantwoord nie en ook geen invloed op die leerder se gemoed hê nie. Enige bydrae, anders as voorlesing, is onregverdig teenoor leerders wat die eksamen op hul eie aflê.
Wie kwalifiseer vir ‘n voorleser? NB: ‘n Voorleser word eers oorweeg wanneer die leerder se leesprobleme nie met die gebruik van Teks na stem tegnologie ondervang kan word nie.
Leerders met ‘n gediagnoseerde spesifieke leergestremdheid of ander leerhindernis wie se leesvaardighede (leesspoed, -akkuraatheid en -begrip) beduidend laer is as die verwagting vir hul kronologiese ouderdom soos bewys deur skolastiese toetse.

Leerders met ‘n gediagnoseerde spesifieke leergestremdheid met ingeperkte vermoë t.o.v. skriftelike ekspressie, spelling en punktuasie ten spyte van toereikende intellektuele vermoëns en genoegsame geleentheid om te leer skryf.
Leerders met probleme met skryfspoed vergeleke met die ouderdoms- of graadverwagting ervaar.
Leerders met onleesbare handskrif.
Leerders met onvoldoende hand- of boonste ledemaat funksie bv. ‘n fisiese gestremdheid, wat nie self kan skryf of ‘n funksionele skryfspoed kan handhaaf nie.
Comments